Languedoc-Roussillon

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Languedoc-Roussillon

Blason du Languedoc Roussillon

Beeld:Ligging van Languedoc-Roussillon.png
Départements Aude (11)
Gard (30)
Hérault (34)
Lozère (48)
Pyrénées-Orientales (66)
Prefektuur Montpellier
Bevolking 2 295 648 inw.
(1999)
Bevolkingsdigtheid 84 inw./vk km
Oppervlakte 27 376 vk km
Arrondissemente 14
Kantons 186
Munisipaliteite 1 545
President van
Gewestelike Raad
Georges Frêche

Die région Languedoc-Roussillon [lɑ̃gˌdɔkʀusiˈjõ] (Oksitaans: Lengadoc-Rosselhon [ˌleŋgɔˈðɔk rruseˈʎu] , Katalaans: Llenguadoc-Rosselló [ˌʎeŋgwəˈðɔk rrusəˈʎo]) in Suid-Frankryk word gevorm deur vier départements, wat langs die Middellandse See lê - Aude, Gard, Hérault en Pyrenées-Orientales - en die binnelandse département Lozère, wat deel uitmaak van die Sentraalmassief. Die région is 'n samesmelting van die historiese provinsies Languedoc met sy Oksitaanse en Roussillon met sy Katalaanse geskiedenis en tradisies.

Die Cévennes-gebergte
Die Cévennes-gebergte

Die gewes word deur Spanje, Andorra, die golf van Lion en die régions Provence-Alpes-Côte d'Azur, Rhône-Alpes, Auvergne en Midi-Pyrenées begrens. Sy natuurlike grense is die Pireneë, die platorand van Lauragais, die Cévennes en die Rhônerivier. Weens die geografie van die gewes met sy vlaktes langs die see en die gebergtes in die agterland word na Languedoc-Roussillon ook as die "amfiteater" langs die Middellandse See verwys.

Languedoc-Roussillon beslaan 'n oppervlakte van 27 376 vierkante kilometer en het volgens die sensus van 1999 2 295 648 inwoners. Die hoofstad van die gewes is Montpellier.


Inhoud

[wysig] Geskiedenis

In die antieke tydperk maak die gebied van Languedoc-Roussillon 'n deel uit van die Romeinse provinsie Gallia Narbonensis. Die Wes-Gote, wat hulle in die 5de eeu n.C. in die streek vestig, gebruik die naam Septimanië vir die gebied. Septimanië word tydelik deur die Arabiere beset en later deur Karel die Grote verower. Tydens die Frankiese bewind staan dit ook as die Gotiese Mark bekend.

Peyrepertuse, een van die bekende kastele van die Kathare
Peyrepertuse, een van die bekende kastele van die Kathare

Die tydperk van die feodalisme bring politieke verdeeldheid. Die graafskappe Roussillon en Cerdagne staan onder die invloed van die Katalaanse Koninkryk Aragón, terwyl Neder-Languedoc deur die Oksitaanse Huis Trencavel oorheers word.

Na die kruistog teen die Kathare word die Trencavel-heersers opgevolg deur die Franse koning.

Die politieke splitsing word in die ooreenkoms van Corbeil in die jaar 1258 bevestig; die Corbières word as grenslyn tussen die Koninkryk Frankryk en die Koninkryk Aragón bepaal.

Met die Pireneeë-verdrag van 1659 word die Roussillon en die noorde van Cerdagne by Frankryk ingelyf, tog bly die provinsies Languedoc en Roussillons selfstandige administratiewe eenhede.

Die huidige départements Aude, Gard, Hérault en Lozère is tot by die Franse Rewolusie van 1789 deel van die historiese provinsie Languedoc, terwyl die département Pyrénées-Orientales oorspronklik deel uitmaak van die historiese provinsie Roussillon.

[wysig] Ekonomie

Le Lido, 'n smal strepie land tussen 'n étang (strandmeer) en die see, geleë tussen Sète en Agde
Le Lido, 'n smal strepie land tussen 'n étang (strandmeer) en die see, geleë tussen Sète en Agde

Die ekonomiese basis van Languedoc-Roussillon is eintlik die son, aangesien die landbou en die toerisme die grootste werkverskaffers is. Die nywerheid en mynbou is van minder belang. Met die uitsondering van die département Lozère bly die werkloosheid van meer as twaalf persent 'n groot probleem vir die gewes.

Die gewes is die tuiste van uitstekende wit, rosé- en rooiwyne en 'n aantal bekende kaassoorte, wat veral van skaap- en bokmelk vervaardig word, waaronder ook die Roquefort.

Langs die Mediterreense kuslyn van Languedoc-Roussillon, wat oor 'n lengte van 180 kilometer strek en 160 kilometer se sandstrande insluit, is talle hipermoderne vakansieoorde soos Cap d'Agde, Fleury d'Aude, Gruissan, La Grande-Motte, Port Camargue, Port-Le-Barcarès, Port-Leucate en Saint-Cyprien opgerig. Meer as 20 jaghawens maak van Languedoc-Roussillon 'n belangrike Europese watersportgebied. Cap d'Agde beskik oor die grootste Europese sentrum vir naturisme.

[wysig] Demografie

Languedoc-Roussillon vertoon die vinnigste bevolkingsgroei van alle Franse geweste. Die huidige bevolking word op 2,46 miljoen mense geskat, terwyl daar teen die jaar 2030 sowat 3,1 miljoen inwoners sal wees. Die bevolkingsaanwas word grotendeels deur binnelandse migrasie veroorsaak.

[wysig] Stede

Die kloof van die Héraultrivier
Die kloof van die Héraultrivier

Die grootste stede van die région is:

Inwoners1 Département
Munisipaliteit Agglomerasie
Montpellier 225 392 287 981 Hérault
Nîmes 133 424 148 889 Gard
Perpignan 105 115 162 678 Pyrénées-Orientales
Béziers 69 153 77 996 Hérault
Narbonne 46 510 46 510 Aude
Carcassonne 43 950 43 950 Aude
Sète 39 542 66 177 Hérault
Alès 39 346 76 159 Gard

Die département Lozère is 'n oorwegend plattelandse gebied sonder groot stede; die grootste dorp is Mende met 11 804 inwoners 1.

1: Gegewens van 1999, bron: http://splaf.free.fr/

[wysig] Tale

Languedoc behoort tot die Oksitaanse taalgebied, terwyl in Roussillon nog Katalaans gepraat word. Frans is die ampstaal van die région, alhoewel die inheemse tale as skool- en universiteitsvakke toegelaat word.


[wysig] Eksterne skakels


Die administratiewe gebiede van Frankryk Flag of France
Aquitaine | Auvergne | Bourgogne | Bretagne | Centre | Champagne-Ardenne | Elsas | Franche-Comté | Île-de-France | Korsika | Languedoc-Roussillon | Limousin | Lorraine | Midi-Pyrénées | Nord-Pas-de-Calais | Basse-Normandie | Haute-Normandie | Pays-de-la-Loire | Picardie | Poitou-Charentes | Provence-Alpes-Côte d'Azur | Rhône-Alpes
Oorsese gebiede:
Frans-Guyana | Guadeloupe | Martinique | Réunion